Freddie Burger van Ketchikan, Alaska skryf:
Dit is winter in Suid-Oos-Alaska. Dag en nag het saamgesmelt, die seisoen is een van donkerte, reën, sneeu en ys, maar veral reën. Die bere kruip onder hol bome in, die arende verhuis na waar dit lig en warm is en die salmeiers broei uit in ysige waters onder gevriesde mere. Sommige nagte as die reën en sneeu die gordyne toelaat om oop te trek, dans die noorderligte met veelkleurige gewaad oor ysvlaktes en sneeubedekte berge.
Die sprokieswêreld van Alaska is ook ’n bedrieglike wêreld wat in ’n oogwenk van wonderwêreld tot ysige graf kan verander. Die lewe in Alaska is een van oorlewing. Selfs in die moderne tye is oorlewing ‘n groot oorweging. ’n Glips op ’n gladde bootdek of ’n verkeerde afdraai in die digte woud kan ’n verkluimdood tot gevolg hê. Die lewe in Alaska is ook ’n gemoedstoestand. Vir baie mense is die lang, donker en koue winter te eensaam en teneerdrukkend om geestelik te oorleef, vir ander is dit tyd om al die kultuurgoedere uit te haal en hulle daarin te verdiep. In Alaska is die natuur óf jou bondgenoot óf jou vyand. Ons kry ongeveer 4 meter reën en sneeu per jaar. Soms daal die temperatuur tot minus 15 of selfs 20 grade F, baie matig in vergelyking met ander dele van Alaska!
Waarom het mense hulle hoegenaamd in Alaska kom vestig? Die antwoord is eenvoudig: ter wille van oorlewing. Die eerste mense wat hulle hier kom vestig het was drie groepe Indiane: die Eskimo’s wat in die binneland woon, die Aleuts wat op die Aleutiese Eilande in die weste woon en dan is daar die “People of the Rainforest” wat Suid-Oos-Alaska is waar ons nou woon. Van hierdie “Rainforest People” is die Tglingit Indiane die vernaamste groep en hulle is hier in Ketchikan die oorheersende groep, maar daar is ook nog die Haida en Tsimshian-groepe. Die Tsimshians is van Kanada en woon as groep in Metlakatla. Ongeveer 25% van ons plaaslike inwoners is Indiane.
Hierdie oorspronklike inwoners van Alaska het baie tipiese gelaatstrekke. Hulle is kort donker mense met pikswart hare en oë. Die kindertjies met ronde gesiggies, pikswart hare en oë is te pragtig. ’n Mens voel lus om hulle uit te knip en op ’n poskaart te plak.
Ketchikan, waar ons woon, is soos die meeste dorpies in Suid-Oos-Alaska op ’n eiland geleë met die gevolg dat as jy nie kan vlieg of swem nie, jy ook nie hier kan uitkom nie. Gelukkig tog vir vliegtuie en bote. Hierdie feit en die weersomstandighede het ’n bepalende invloed op die leefwyse van die mense van Alaska.
Die Tongass-reënwoud (ja, daar is ’n reënwoud in Alaska) strek oor al die eilande en bestaan uit digte woude van hemlock (volgens Bosman & Van der Merwe is dit dollekerwel of Kanadese spar), seder (rooi en wit) Sitka spruce, alder en ’n veelheid van kleiner bome en stuike waarvan die digte salmbessie die bekendste is. Hier is ook baie veldblomme in die lente en somer te sien.
In hierdie bosse woon bere, takbokkies, wolwe, eekhorinkies en talle ander kleiner diere. In die veelvuldige mere swem ’n groot verskeidenheid van seevoëls waarvan die mallard eendjies en Kanadese ganse die bekendste is. Ander voëlsoorte is ook volop soos die Amerikaanse arend en die rawe om wie daar baie mites en sprokies gebou is.
Wat is dit wat hierdie wonderland so aanloklik maak? Die hele land is in ’n soort van mistieke geheimenis gehul. Vanaf Barrow aan die Arktiese See wat vanaf Mei tot Augustus vir 84 dae net sonlig het en dan weer vanaf November tot Januarie net nag het, tot by die reënwoude van Suid-Oos Alaska waar dit meer as vier meter per jaar reën, tot by die arend wat byna twee kilometer ver die geringste beweging op die aarde kan sien tot by die salm wat met onverklaarbare akkuraatheid na sy geboortestroom terugkeer om lewe voort te bring en te sterf, is daar net wonder en misterie, alles in die oortreffende trap.
Alaska is die grootste staat van die VSA, twee maal groter as Texas en meer as 115,000 vk myl groter as Suid Afrika. In hierdie ontsaglike groot staat woon net meer as ’n half miljoen mense - ’n feit wat onderstreep hoe onherbergsaam hierdie land is. Ketchikan is die 4de grootste dorp in Alaska met ’n inwonertal van ongeveer 7000 mense. Dit is ook die eerste dorp wat die besoeker teëkom as hy die Kanadese gebiedswaters verlaat en deur die Dixon Entrance weer die VSA-waters binnevaar. Die Revillagigedo-eiland waarop Ketchikan geleë is, is deel van die Alexander Archipelago. ’n Archipelago is ’n groot aantal eilande in ’n relatiewe klein strook water. In Suid Oos-Alaska is daar meer as ’n duisend eilande, sommige so groot soos ’n rugbyveld en ander myle lank.
Twee elemente het ’n groot rol gespeel in die ontstaan van Alaska, naamlik vuur en water - vuur in die vorm van vulkane en water in die vorm van gletsers. Eers het die veelvuldige vulkane rotse rondgeslinger en toe met kokende lawa nuwe eilande en landskappe gevorm. Daarna het die gletsers gekom en hierdie riviere van ys het duim vir duim jaar na jaar geploeg en gemaal om waterweë om die eilande te bou of doodloopstrate in die vorm van diep fjords met hulle duiselwekkende styl rotsmure. Dit verklaar waarom die eilande uit swart vulkaniese rotse bestaan en die bogrond oorspronklik net ses duim diep is; en tog het daar ’n digte reënwoud in hierdie bietjie aarde vasgeskop en reusebome opgelewer.
Moet darem ook nie die rol van aardskuddings vergeet nie. Ons word nog soms heen en weer gepluk as ’n herinnering aan die innerlike beweginge van die aarde onder ons. Soms blaas van die vulkane in die Aleutiese eilande nog bollings rook in die lug, net om ons te herinner dat dit die huwelik tussen warm en koud was wat hierdie lieflike mistieke land gebaar het. Ja, hier skenk die aarde nog voortdurend geboorte aan die aarde en skep by die mens ’n weemoedige verlange om te sien wat die oog nie kan sien nie, om te hoor wat onhoorbaar is en om te ervaar wat buite menslike ervaring lê!