Na die land van Waveren

Tulbach AreaToe die man met sy halfdood brein voor my sit en vir my vertel waar hy vandag oral pyn het, het ek geweet. Ek sal ‘n plan moet maak, want hierdie kan ‘n lang dag word. Net daar sê ek, met ‘n ferm stem wat geen teenstand duld nie: Ons gaan vandag rondry, sommer die hele dag. Hy vra nog waarheen, toe is ek al deur die stort en die bed is opgemaak. Ewe gedwee laat hy hom maar voortdu.

Koerant gekoop, motor vol brandstof, ry ons net na tien dié Sondagoggend van die petrolstasie af weg. Onthou gelukkig ook om die rit teller op nul te stel.


Nee, jy moet darem sê waarheen ons gaan kom dit van die sitplek langs my. Ek sê vir hom: vandag gaan ons na die land van Waveren, ek was nog nooit op Wolseley, Ceres of Tulbagh nie en ons bly nou al amper nege jaar in die Kaap. By Kleinmond verby, draai ons binneland toe. Mooi wêreld. Die bergspitse troon blou teen die agtergrond, maar op die voetheuwels lê lappieslande. Canola lande in goudgeel glorie, met tussenin onbewerkte lappies en daar anderkant iets wat blougroen soos lusernlande lyk.

Tussendeur, in die onbewerkte klowe, staan die fynbos geil. Net hier en daar, om die lappies af te wissel, ‘n enkele bloekomboom. Kumuluswolke dryf hier en daar in die lug en party klou beskermend aan die bergtoppe vas. Ver weg op die hoogste,  blou bergtoppe, klein wit blertsies sneeu wat nog van laas oorgebly het. Ons ry oor die wal van die Theewaterskloofdam, wat van volheid borrel en bruis.

Daar verby, ‘n entjie voor Worcester begin die bossies verander. Fynbos word regte Karoobossies, sien ek. Ek is mos die majoor van hierdie rit en besluit sommer om voor ons by Worcester kom, weg te draai en oor Rawsonville te ry. Oor die N1 en ‘n entjie verder, kom ons by ‘n T-aansluiting, links na Wellington en regs na Wolseley. Van die passasiers sitplek kom die versugting dat ons op Wellington kan omdraai huis toe. Terwyl ek dink dat daar darem ‘n nader pad van ons af Wellington toe is, neurie ek maar saggies.

My voete loop na Wellington maar ek draai Wolseley toe. Sommer gou kan mens sien dat jy net ‘n puntjie van die Karoo raak gesny het want hier is dit nou sommer behoorlik Boland. Appelbome vol in die blom en droë wingerdstokke, die huise in die kenmerkende Kaapse boustyl. Kort-kort ‘n afdraaipad na ‘n wynlandgoed. Die netnou se ver bergspitse met die blertsies sneeu is sommer nou baie naby. Op Wolseley kry ons skoon kleedkamers en koop mineraalwater. Ek wil opsluit nie vir Ceres misry nie, die motor draai dus daardie kant toe.

Tussen Wolseley en Ceres kry ons die Michel-pas. Maar dit is sommer of mens onmiddellik in ‘n ander wêreld is. Hoë, gekartelde en gepunte bergspitse, klowe so ver af dat jy nie die onderkant kan sien nie. Lieflike stilhouplekkies en iewers ‘n brug oor ‘n bruisende rivier. Die Breederivier? Ek weet nie. Toe skielik ‘n klein restourantjie, maar omdat ons té vinnig daarop afgekom het, druk ons deur tot in Ceres. Vir my die mooiste van die drie dorpe, maar ek moet bysê dat die dorpe self vir my bietjie van ‘n teleurstelling was, maar die omgewings het daarvoor opgemaak. Van Ceres af, terug oor die pas maar dié keer het ons gesorg dat ons nie weer verbyry nie.

Die Togryers restourant en die vasgestelde spyskaart word sommer buite aangekondig. Binne is dit piepklein, met sitplek vir twintig mense. Buite ook tafels en stoele op die pragtige onderdak hout balkon maar omdat die luggie bietjie koel so hoog in die berge is, het ons binne teen die kroegie gaan hang, totdat daar ‘n tafel oop was. Dit was nie langer as tien minute nie. As jy die plek wil kritiseer oor die soplepels wat verkeerdom neergesit is, of dergelike dinge, sal jy sekerlik genoeg kry. Maar mens moet maar liewer wag totdat die kos kom. Die sop, wat as voorgereg dien, word aan tafel bedien, die hoofgereg is selfhelp en die nagereg word weer aan tafel bedien.  Heerlike gesondheidsbrood en ek besluit sommer dadelik net ‘n halwe snytjie anders gaan ek dit nie maak nie. Met boontjiesop. Brood het nie sout in gehad nie en ek wou nog dink dat dit darem ‘n swaar sop is om saam met so ‘n groot ete te bedien. Maar my mond was met die eerste proeslag gesnoer. Sulke boontjiesop het ek in my dag des lewens nog nie geëet nie en my ma was bekend vir haar lekker kos. Van die sop en brood alleen sou ek versadig kon wees. By navraag sê die eienaar, met trots, dít is nou die Koue Bokkeveld se tradisionele boontjiesop. Maar mense, onbeskryflik geurig en lekker. Daarna het ek maar effentjies geskep aan ‘n heerlike herderspastei, gemengde groente en ekstra aartappel en verbygehou by die rys en gebakte hoenderporsies. Dit wat ek geskep het, kon ek nie eens klaarmaak nie. Maar ‘n plekkie moes oopgehou word vir egte boere melktert wat die nagereg was. Koffie was opsioneel.

Met die betaalslag vind ons uit hulle neem nie kaarte nie en ek wonder vinnig hoeveel kontant ek het, maar gelukkig neem hulle toe darem ‘n tjek. Maar ek val amper agteroor toe ek hoor wat die ete, saam met twee glase rooiwyn kos! ‘n Weggee prys. En die rooiwyn was nie halwe glase nie, hulle het hom gegooi! Ronde magie het ons verder gery en gewens die bed was nader! Gaan kyk toe hoe lyk Tulbagh, waar ons weer goudgeel Canolalande kry. Vandaar na Wellington, Stellenbosch, Somerset Wes en oor die mooi bergpad, terug huis toe. Met nog ‘n uur of wat se daglig oor, hou ons in die motorhuis stil met 385 km op die rit teller. Hans Dons het darem gesê hy het die dag geniet, maar die pyne is nou op meer plekke en erger!

Dis maar die lewe met ’n man wat met Demensie gediagnoseer is. Fisies makeer hy eintlik niks, dis net die breinselle wat afsterf. Die pyne is dus psigosomaties en vir my om te besluit hoe dit hanteer moet word.

Deur Lidia Theron van Durbanville. Oorspronklik geskryf in September 2007.

Opmerkings
Stefan Maree  - Dankie Lida |2008-11-15 21:23:19

Dankie Lida dat jy sonskyn en vreugde in iemand se lewe bring, al kan hy dalk nie kommunikeer daaroor nie. Dit is voorwaar liefdeswerk!
Boertjie
Lidia Theron  - Terugvoer |2009-01-08 10:51:56
Ek kon met die versorging aanhou tot einde Oktober 2008.
Ons het huis en haard (is dit Afrikaans vir lock, stock & barrel?) op Bettysbaai, verkoop. Ons moes om vir sy verdere versorging te kan betaal. Al maak mens hoe goed voorsorg vir jou oudag, is hierdie 'n ompad wat ons selde aan dink.

Hy is nou opgeneem in 'n Versorgingsplek in Panorama en ek bly in 'n klein woonstelltjie in Durbanville. Ek gaan sien hom gereeld en gaan, vir solank as wat dit nog kan, haal hom elke Sondag uit vir die dag.

Ons murmureer nie, ons stap die pad blymoedig!
Slegs geregistreerde lede mag opmerkings maak en kommentaar lewer!
Kliek hier om te registreer.

3.23 Copyright (C) 2007 Alain Georgette / Copyright (C) 2006 Frantisek Hliva. All rights reserved."

 

LEDE INSKAKELING

WIE IS AANLYN?

Daar is tans 24 Gaste aanlyn
Banier

LEKKER DIENSTE

Soek Afrikaans is'die eerste ware Afrikaanse soek enjin
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier

Klik. Koop. Laat Loop.
Banier
Banier