Verbeel jou, al is dit net vir ’n oomblik, dat jy 'n sneeuvlokkie is wat donsigwit en veerlig op die Juneau-ysveld neerdaal. Jou begeerte is om eendag aan die oewer van die Mendenhall-meer in Alaska as ’n kristalhelder, diamantblink stukkie gletserys in die handpalm van ’n mooi vrou te lê. (Ja, ek weet die veerliggedeelte is maar taai op die verbeelding, maar wees lief vir jouself en laat loop jou verbeelding.) Jou geduld sal net baie groter as jou verbeelding moet wees, want vandat die sneeuvlokkie op die meer van ys val totdat dit glinsterblink as gletserys so twaalf myl verder uitspoel, sal net ongeveer 250 jaar duur.
Die Juneau-ysveld is een van die talle mere van ys wat in die berge van Alaska gevorm het. Daar vloei 38 gletsers uit hierdie ysmeer en die Mendenhall-gletser is die een wat die maklikste vanaf die land bereik kan word. ’n Ysveld soos die een in die berge naby Juneau is in werklikheid ’n meer van ys. Wanneer die meer begin oorloop, kry ons riviere van ys, oftewel gletsers. Gletsers is die stille getuienis van die geweldige krag van die natuur. Gletsers vloei baie stadig en voer alles in hulle pad daarmee saam. As die beeld nie so erg kontrasterend was nie, sou ’n mens kon sê dat gletsers deur harde graniet sny soos ’n warm mes deur botter.
Gletsers bestaan uit gekompakteerde sneeu. Elke keer as vars sneeu op ou sneeu val, word dit saamgepers tot ’n digte ysmassa, so dig dat dit net die blou lig van die sonstrale deurlaat. Dit duur eeue voordat ’n mens die spoor van ’n gletser kan volg - dit is nou die duisende meter diepe skeure en valleie waar dit deur soliede rots gekerf het. Die rotse onder die gletser word deur die beweging van die gletser tot die fynste van fyn poeiers gemaal! Die stukke van die gletser wat afbreek en in die see val, dryf dan in die strome verder as ysberge – vriendelik mooi, bedrieglik gevaarlik!
Die Mendenhall-Gletser het in 1700 begin kleiner word en sal net weer begin groei as daar meer sneeu val as wat onder as ysberge afbreek. Dit is egter die normale gang van gletsers - sommige word kleiner terwyl daar weer op ander plekke nuwe gletsers teen berghange begin afgly. Daar is onlangs gevind dat die sewe gletsers op Mt Shasta in die noorde van Kalifornië besig is om te groei.
Kom hou jou lyf toeris en vaar saam met my terug oor die voetspore van die oeroue gletsers in die Behm-kanaal om die Misty Fjords te gaan verken. Die Misty Fjords is deel van die vasteland en is onbegaanbaar vanaf die see. Die Behm-kanaal skei ons eiland van die vasteland wat wanwee die duisend meter hoë rotsmure ontoeganklik is vanaf die see. Die see is hier ook duisend meter diep – twee duisend meter in hoeveel eeue?
Eers het gewelddadige ontploffings reuserotse soos gloeiende vuurballe die lug ingeslinger en alles wat sigbaar was met rookmis en as bedek. Toe het die vlammende lawa begin vloei en uiteindelik versteen in vingerwysende bergpieke en skurwe rotsbanke. Die geboorte van Alaska het begin. Toe het die sneeuvlokkies lig en sag uit die wolke begin tuimel en tuimel. Eeue lank het hulle aanmekaar geklou en digte ysbanke gevorm wat teen die skuinstes begin afgly het, kortpad gekies het na onder en skynbaar bewegingloos en moeiteloos diep skeure in die sterwende lawa geploeg het. So is ook die Misty Fjords met styl walle in die rotswande van die kus uitgekerf.
Ons vaar in een van die inhamme in en buig die kop agteroor om die hoogtes van die steil rotswande te verken. Die rotslyste is gevul met broeikolonies van duisende voëls. Ja die voëls het met groot vlerkgeklap aanmekaar vertel van die veilige broeiplek. Duisende bou nes op hoë en smal rotslyste waar hulle hul kroos vertroetel en vertroos met vars salm uit die see of rooi ryp bessies van die bosse. Hier is hulle veilig van plunderaars, behalwe die van hulle eie soort. In die diep see het die salm en ander soorte visse vermenigvuldig en milddadig vermeerder. Daar was genoeg om die beer en arend te voed, ook die seeleeu en seeotter. Selfs die gulsige raaf maak van die oorskiet ’n feesmaal en smul hom trommeldik.
Die mens met sy drang om te weet en om te meet het gekom om te karteer en te beheer. Ontdekkingsreisigers het in hulle soektog om die nog steeds ontwykende North West Passage te vind, in blinde fjords opgevaar. Sommige het teruggekeer en ander het in vergete geskiedenis weggesink waar hulle oorskot deur seestrome in ’n ewige slaap gewieg word.
Ons vaar verby “Seal Rock” waar ’n groep lui “harbor seals” in die son lê en braai. Die lomperds kan egter blitsvinnig reageer as hulle geliefde dis verbyswem. Dan verslind hulle die een salm na die ander. Voor ons lê die indrukwekkende New Eddystone Rock, die oorblyfsel van ’n vulkaniese rots wat waarskynlik ’n nunatak is. ’n Nunatak is n rotspunt wat nooit onder ys was nie en die gletsers het waarskynlik weerskante verby beweeg. Die waters hier is baie bedrieglik. Dit wissel van buitengewoon diep tot gevaarlike rotspunte wat net onder die oppervlak lê. Niemand weet hoeveel bote uit vergange se dae onder hierdie ysige waters lê nie. Die geskiedenis leer ons dat baie seevaarders sommer net so verdwyn het en hulle geheime bly nog steeds geheim.
Hier voel ’n mens asof jy terug is by die begin, by die onverklaarbare, waar begin en einde, lewe en dood mekaar ontmoet. Hier staan wysgere woordloos en gelowiges buig eerbiedig neer. Terwyl doemprofete die einde van die wêreld verkondig, is die heelal nog steeds besig om geboorte aan die aarde te skenk.
Artikel en fotos deur Freddie Burger van Ketchikan, Alaska. Besoek gerus ook sy webtuiste by www.eeraangodalleen.com