Die Traan van 'n Koedoebul

KoedoebulEk en ’n vriend van my Pierre, dit is nou nie Pierre de Charmoy nie, maar Hugo, en word uitgespreek “you go”, soos in Hugo Porta, het gaan jag op hul plaas Stavoren daar anderkant Marble Hall.

Dit sou ons laaste jag op Stavoren wees voordat die ‘konsolidasiemense’ amptelik besit oor die familieplaas sou kry. Meeste boere in dié kontrei het besef dat ’n ‘aanbod’ beter as onteiening is. Ewenwel, dit was ons laaste jag op Stavoren.


Die Vrydagaand laat arriveer ons op die plaas. Die rustigheid van die bosveld was dadelik opvallend. Met ’n koppie boeretroos in die een hand en my Keyserpyp in die ander, tuur ons vir lang oomblikke hoe die kampvuurtjie se wuifende vlamme tot niet in die laataand se winterbriessie verdwyn. In die rante hier nêffens ons is daar die gekruis van die rooibokke se liefdesroggels, onder die sekelmaan.

Ek staar na die wegkwynende hardekoolstomp in die nanag vuurtjie, slegs die vaal-rooi as verraai sy eens bestaan. “Bill” sê Pierre, en skielik is die grafstil stilte verbreek. “Môre oggend sal ons ’n koedoe moet skiet”. “Ja” sê ek, wel wetende dat Pierre hulle die afgelope drie jaar nie koedoes geskiet het nie sodat hulle kon aanteel. Hulle sou vanjaar ook nie koedoes geskiet het nie as dit nie was vir die ‘konsolidasiemense’ nie. Ek besef die brandpyn in sy hart, die trant van sy stemtoon het dit verraai.

Toe die maan sy goue horing na die westerkim neerbuig, het ons gaan slaap. Die nagvreet-diere het in goue vrede bo die heuwels en in die ver valleie, rustig voort gewei. Die gekwetter van ’n versteurde, slapende bosveldfisant het elk nou en dan ons slaap verbreek, maar algaande het die soete rus ons oorval.

Teen doudag was ons al in die veld. Al langs die snuifgetrapte paadjie het ons koers gekies al dieper die ruie bosveld in. Laag waai die winter-motreënwind deur die afgevalle blare. Meteens die gekraak van ’n lekkerbreekboom se takke. Siedaar, ’n volgroeide bosveld koedoebul. Die reuk van kruit op die reënwind-luggie, verraai dat die geweer se slagpen reeds geslaan het. Pierre skiet raak, as jagmaat ken ek hom te goed. Daar, daar by die bok het ons beide neergehurk , geen woord gesê, net stil gestaar na die traan wat uit die oog se diep bruin binneste drup.

Daardie aand in die lapa was dit stil, slegs die koffiewater prut.

Ek hoor die blusgeluid wat saggies opklink uit die vaal-rooi as, van ’n vallende traan.

Dis al.     

Deur Billy Attard van Polokwane, Limpopo Provinsie.
Opmerkings
Hennie Van Deventer  - Die koedoekop teen my muur |2009-02-11 10:32:06
Teen die oostelike muur van die woonkamer in ons bosplekkie in Sabiepark hang ‘n oorheersende koedoekop. Die spogtrofee van ‘n knap jagter.

Dis ook ‘n bok met ‘n storie daardie. Een wat ek graag oorvertel.

Die skenker en die man wat die bul geskiet het, was my oorlede swaer Neels Nothnagel van die Rand, ‘n jagter van formaat. Elke keer as daardie skut duisend die sneller trek, val sy bok. Só was dit altyd. Kopskote taks om taks.

Ook hierdie keer. Toe die groot lyf die aarde tref, was die koedoebul morsdood. Toe Neels by hom kniel, was hy trots op ‘n knap skoot. Die groot blink trane wat in die starende oë opwel en stadig oor die bul se wange biggel, was daardie dag egter ook vir die ervare jagter ‘n hartseergesig.

Meer as ooit tevore is hy daardeur ontroer. Toe oormeester ‘n weekheid hom. Sy skouers begin ruk. Hy huil saam oor ‘n verspilde lewe. Die eerste keer.

Net net daar in die veld, alleen langs Sabiepark se koedoe, neem Neels toe ‘n harde besluit. Daardie koedoe was sy laaste. Tot siens, jagveld. Vir altyd. Hy wat Neels Nothnagel is, sou nooit weer ‘n geweer optel nie. Hy het ook nie tot met sy dood.

Dat juis daardie met emosie deurdrenkte trofee in ‘n nie-jagter se huis hang, is gepas, meen ek. Dit bevat ‘n element van wat die Engelse poetic justic noem.

Hennie van Deventer
Ben Coetzee  - Dankie |2009-02-12 02:56:14
Ai kêrels, dankie vir sulke sterk sentimente uit jagtersgeledere. Billy en sy vriend was 'n spesiale geval. Dit breek egter telkens my hart dat onskuldige diere bloot as prestasie gedood word. Ek het my eie manier gehad, maar dalk kan mens ook met 'n kamera baie tyd in die bos deurbring en baie nagte langs 'n vuurtjie verwyl sonder om dood te maak.
Brand Coetzee |2009-04-21 10:17:15
Ek "moet" Koedoe gaan skiet - vir jaar se vleis voorraad.
Met twee in die huis het ons amper uitgekom met laasjaar se jong-bul wat my broer geskiet het.
Amper elke aand wildsvleis - was een van die grootste voorregte in jare !!!

Maar hoe nou gemaak - ek jag glad nie - 24 jaar gelede bokke geskiet.

En NOU - daai traan . . . . . .

Ai Billy - dit gaan moeilik wees.

Uitstekende stukkie skryf-goud wat jy met ons gedeel het - dankie.
Pierre Van der Walt  - Traan van 'n Koedoebul |2009-06-17 17:07:46
Billy
Is jy die Billy Attard wat vroeer jare by Musgrave gewerk het? Indien wel - wil jy my nie asb kontak nie. 0824543018
Pierre vd Walt
Billy Attard |2009-08-04 13:48:10
Dit is nou interessant dat 'lekkerafrikaans' vir ek en Pierre van der Walt by mekaar uitgebring het. Dit wys jou net, moet nie ophou afrikaans praat oor die eter nie.
Ek en Pierre kon dik stukke gesels het oor 'geweers' en 'roers'.
Vandag kyk ek voëltjies en sien doer in die verte 'n Roerdomp in die vlei.
Au revoir.
Slegs geregistreerde lede mag opmerkings maak en kommentaar lewer!
Kliek hier om te registreer.

3.23 Copyright (C) 2007 Alain Georgette / Copyright (C) 2006 Frantisek Hliva. All rights reserved."

 

LEDE INSKAKELING

WIE IS AANLYN?

Daar is tans 23 Gaste aanlyn
Banier

LEKKER DIENSTE

Soek Afrikaans is'die eerste ware Afrikaanse soek enjin
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier

Klik. Koop. Laat Loop.
Banier
Banier