Ek en ’n vriend van my Pierre, dit is nou nie Pierre de Charmoy nie, maar Hugo, en word uitgespreek “you go”, soos in Hugo Porta, het gaan jag op hul plaas Stavoren daar anderkant Marble Hall.
Dit sou ons laaste jag op Stavoren wees voordat die ‘konsolidasiemense’ amptelik besit oor die familieplaas sou kry. Meeste boere in dié kontrei het besef dat ’n ‘aanbod’ beter as onteiening is. Ewenwel, dit was ons laaste jag op Stavoren.
Die Vrydagaand laat arriveer ons op die plaas. Die rustigheid van die bosveld was dadelik opvallend. Met ’n koppie boeretroos in die een hand en my Keyserpyp in die ander, tuur ons vir lang oomblikke hoe die kampvuurtjie se wuifende vlamme tot niet in die laataand se winterbriessie verdwyn. In die rante hier nêffens ons is daar die gekruis van die rooibokke se liefdesroggels, onder die sekelmaan.
Ek staar na die wegkwynende hardekoolstomp in die nanag vuurtjie, slegs die vaal-rooi as verraai sy eens bestaan. “Bill” sê Pierre, en skielik is die grafstil stilte verbreek. “Môre oggend sal ons ’n koedoe moet skiet”. “Ja” sê ek, wel wetende dat Pierre hulle die afgelope drie jaar nie koedoes geskiet het nie sodat hulle kon aanteel. Hulle sou vanjaar ook nie koedoes geskiet het nie as dit nie was vir die ‘konsolidasiemense’ nie. Ek besef die brandpyn in sy hart, die trant van sy stemtoon het dit verraai.
Toe die maan sy goue horing na die westerkim neerbuig, het ons gaan slaap. Die nagvreet-diere het in goue vrede bo die heuwels en in die ver valleie, rustig voort gewei. Die gekwetter van ’n versteurde, slapende bosveldfisant het elk nou en dan ons slaap verbreek, maar algaande het die soete rus ons oorval.
Teen doudag was ons al in die veld. Al langs die snuifgetrapte paadjie het ons koers gekies al dieper die ruie bosveld in. Laag waai die winter-motreënwind deur die afgevalle blare. Meteens die gekraak van ’n lekkerbreekboom se takke. Siedaar, ’n volgroeide bosveld koedoebul. Die reuk van kruit op die reënwind-luggie, verraai dat die geweer se slagpen reeds geslaan het. Pierre skiet raak, as jagmaat ken ek hom te goed. Daar, daar by die bok het ons beide neergehurk , geen woord gesê, net stil gestaar na die traan wat uit die oog se diep bruin binneste drup.
Daardie aand in die lapa was dit stil, slegs die koffiewater prut.
Ek hoor die blusgeluid wat saggies opklink uit die vaal-rooi as, van ’n vallende traan.
Dis al.
Deur Billy Attard van Polokwane, Limpopo Provinsie.
| Opmerkings |
|
|
|||||
|
|||||
|
|||||
|
|||||
|
|||||
Slegs geregistreerde lede mag opmerkings maak en kommentaar lewer!
Kliek hier om te registreer.
Kliek hier om te registreer.
Powered by !JoomlaComment 3.23












