Ek lees nou die dag weer ’n artikel in die tydskrif Superfiets-September, 1981 van Floors van die Vrystaat met sy 1942 Harley Davidson mouterbaaik. Ek selwers het vir veertien jaar ’n draai gemaak in die Vrystaat en het ’n 1942 Harley met syspan wat ek al twee keer gerestoureer het. Die baaik is in 1970 op ’n Saterdagmiddag gekoop vir R50 by ene dokter Moore se seun wie geld benodig had vir sy passaat na Amerika. Hy het die Harley by 4VRP (Voertuig Reserwe Park) gekry om te gebruik vir die skiet van ’n film.
In daardie dae reeds was ek nie ’n vermoeënde man nie en het ek slegs R30 by my gehad. Om die transaksie te kon beklink moes ek plegtig onderneem om nie later nie as daardie eerskomende Maandag, die restant van R20 in te betaal. Daardie R20 het ek by my goeie vriend Piet Hart geleen om my skuld te kon vereffen. Piet had reeds ’n Harley en het my bygestaan om ook een op te spoor. Orals waar ek en Piet gegaan het, het ons ons voorgestel as Piet Hart en Attard met die gevolg dat mense ons aangesien het as twee broers naamlik “Piet en At Hart.“ Later is ons sommer genoem Piet en Attie.
Staaltjies oor Harleys is daar vele. Ek het self ’n foto van my oorlede pa en sý oorlogsvriend wat by hul Harleys afgeneem is, daar bo in die Noorde. Die eerste Harley wat ek en Piet opgespoor het, voordat ek die een in Groenkloof Pretoria gekoop het, was een wat ons op Ogies in die lokasie in ’n hoenderhok raakgeloop het, dié het ons later gebruik vir reserwedele.
Hoe dit ookal sy, ek en ou Pieta het gaan toer in die Oos Transvaal met die Harleys en hier is een van vele verhale van ons Harley wedervaringe op daardie toer.
Ons het ons toerprogram so beplan om kort na die restourasie van my Harley in die langpad te spring. Ek moes eers ’n liksensie gaan uitneem en terwyl Piet vir my by die toetsgronde wag is ek te voet stad toe vir rybewys fotos. Na twee ure se gewag vir my daag ek weer by die toetsgronde op. “Waar was jy gewees?” vra Piet hoogs ontstoke. Huiwerig vertel ek hom dat nadat ek die fotos geneem het sien ek ’n samedromming by ’n afdelingswinkel en wie tree toe daar op? niemand anders as Al Debbo nie. Ek kon nie anders as om eers na hom te luister nie. Hieroor was ou Pieta baie boos maar nietemin, na die uitreiking van my leerlingliksens is ons daar weg.
Vroegoggend skop ons die Harleys aan die brand. Om dit te kan doen moet jy eers die Harley “prime” daarna skop jy hom aan die brand. Soos dit ’n goeie leermeester betaam waarsku Piet my dat as mý “timing” nie reg is nie die Harley gaan “backfire” en my die lug in skop, noodeloos om te sê dit gebeur toe ook., my eerste les.
Brekasies was daar volop. Die eerste was ’n lekkende brandstofpyp 40 kilometer buite Pretoria. Op Lydenburg het ons drie dae langer vertoef om Piet se Harley se ratkas te herstel. Hierna moes ons bedags toer om die ou ses-volt batterytjie te spaar. Op pad Kaapmuiden toe besluit Piet se Harley om te “seize”. Al sleeptou wat ons nou kon kry was ’n stuk staaldraad wat ons langs die pad van ’n plaasboer se omheining afgeknip het. Ons was nou onderweg na Piet se swaer Monty Schoeman toe, so ‘n tien kilometer regs van Kaapmuiden op ‘n suikerplaas.
Dit was Detsembermaand, dit reën, ons ry op ’n grondverlegging en dit was al donker. Die pad was voos sinkplaat gery deur die suikerlorries. Net daar gee my ses voltjie die gees. Piet se Harley, wat agter my gesleep word, se lig moet nou in die donkerte die pad aandui. Telkens wanneer ek ’n plaat water voor my sien, lyk dit vir my so mooi gelyk dat ek besluit om daardeur te jaag, min wetende, volgens my, dat Pieta in die spervuur van ’n straal modderwater gaan beland. As ek terugkyk sien ek net hoe Piet sy oë uitveë maar ek het “gadenk” hy beduie ek moet maar aanstoot want ons was nou al amper by die plaas. Daar gekom het ek ou Pieta nie herken nie, hy was modderbesmeer en baie verbaal. Hy het woorde geuiter wat slegs in die profane lewe daar buite gebesig word en wat ek nie hier sal, of wil herhaal nie.
Ou Pieta het eers weer met my gesels nadat hy ’n lekker warm stort gehad het. Ek is ’n paar dae later terug Pretoria toe en Piet het per trein teruggereis. So twee maande later het my vriend, Pieta, sy Harley herstel en teruggery Pretoria toe.
Om te vergoed vir my sondes het ek later vir ou Pieta hierdie mouterbaaik gediggie voorgelees:
GEE MY
Gee my die ope lug,
Gee my ’n verre horison,
Gee my die wind wat suis,
Gee my, ’n fiets vir my nooi-
gerus teen my rug.
Gee my ’n lied in die hart,
Gee my ’n fiets wat brul,
Oor berg en dal.
Gee my ’n fiets wat krul,
Onder die regter hand.
Gee my die ope veld.
Deur Billy Attard van Polokwane, Limpopo Provinsie.
| Opmerkings |
|
|
|||||
Kliek hier om te registreer.












