WIE, WAT EN WAAROM IN LEKKER AFRIKAANS?

Hierdie webblad is geskep vir almal wat passievol is oor Afrikaans praat, lees, skryf en kuier en dit sommer net geniet omdat dit so ‘n beskrywende taal is. Lekkerafrikaans.com gaan oor alle grense heen, dit is vir alle kulture, vir plattelanders, stedelinge, binnelanders, buitelanders, swerwers - en al is dit ook nie jou eerste taal nie - maak nie saak nie. Afrikaans is ‘n taal wat mense fassineer omdat dié taal karaktertrekke van vele kontinente het. Afrikaans is´n unieke produk wat wel deur die Europeërs in Afrika gevestig is, maar deur die Afrika-mens self ontwikkel en gevorm is. Daarom die kleurvolheid van Afrikaanse beskrywings.

Die Afrikaanse taal het reeds taai geraak - soos´n Karoo-bossie wat diep wortel geskiet het in die Karoo se klipperige grond. Niks sal dit onderkry nie. Soos na ‘n  milde reën in die Karoo, is Afrikaans besig om uit te spruit en te groei dwarsoor alle media.

Lekkerafrikaans.com gaan nie kompeteer op die terrein van die taalpuriste nie, maar is daar vir die alledaagse gebruiker van die taal, enigeen wat êrens die taal aangeleer het en leer liefkry het. Vir wit, bruin en swart gebruikers van Afrikaans. Daarom is Lekkerafrikaans.com geskep as ‘n forum waaraan enigeen kan deelneem wat die taal praat, lees of skryf. Ons wil graag sien dat Afrikaans bevorder word en  het “Op die Voorgrond” geskep waar persone, instansies en gebeurtenisse wat Afrikaans op die voorgrond geplaas het - en nog steeds doen - genomineer kan word. Neem gerus deel en nomineer iemand of ‘n gebeurtenis waar Afrikaans met trots aangebied is. Skryf ‘n artikel of storie of maak net n bydrae wat meer mense sal motiveer om Afrikaans daagliks te gebruik.

Die gebruikers van Afrikaans is reeds oor die wêreld heen versprei en die Wêreld Wye Web, of sogenaamde internet, is een van die mediums waardeur Afrikaanse gebruikers daagliks kommunikeer en gedagtes ruil. As jy baie tyd op die internet spandeer, sal jy daagliks sien wat aan die gebeur is en watter invloed die groei van die Web ook op die Afrikaanse taal het. In ag genome die feit dat daar ongeveer 7 miljoen Afrikaansprekendes (1ste, 2se en 3de taal sprekers) is, tesame met die bewerings dat Afrikaans wêreldwyd deur sowat 38 miljoen mense verstaan word, is dit geen wonder dan dat Afrikaans een van die snelgroeiendste tale op die Web is nie.

Lekkerafrikaans.com is nie net nog 'n Afrikaanse webtuiste nie en poog om ‘n spesiale rol te speel om veral Afrikaans op die internet te bevorder. Daar is eenvoudig te min Afrikaanse webtuistes. Met die groei in die mark vir Afrikaanse gebruikersgoedere, gaan Lekkerafrikaans.com beslis ‘n rol speel om die tendens nougeset aan te moedig. Kyk byvoorbeeld na hoe min Afrikaanse advertensies op die internet beskikbaar is. Wat is mooier as n treffende Afrikaanse advertensie om jou produkte mee te bemark. Ondersteun dus Lekkerafrikaans.com  om ook Afrikaanse bemarking verder uit te bou.

'n Nuwe konsep, aanvullend tot die alomerkende groeiende tendens van sosiale netwerke, waarin ons heelhartig glo, is, wat die engelse noem, "Citizen Journalists" of "Citizen Journalism". Met die daaglikse opskiet soos digitale paddastoele van dagjoernale ("Blogs") en webtuistes waar publieke kommentaar toegelaat en aangemoedig word, was dit te verwagte dat die gewone man en vrou op straat meer en meer hulle stemme sou laat geld. 'n Nuwe kategorie van joernaliste is gebore! Lekkerafrikaans.com bied juis nou die geleentheid aan jou om jou talente te gebruik en saam te skryf - kom raak dus betrokke en ontwikkel die joernalis in jou!

En nee, ons het nog nie 'n ordentlike beskrywende Afrikaanse naam vir "Citizen Journalists" nie. (Nog 'n rede hoekom ons julle deelname aan hierdie webtuiste nodig het) Burgerlike joernaliste klink asof ons wil oorlog toe gaan. Onafhanklike joernaliste vat-vat so aan die politiek. Dalk Sosiale Joernaliste en Sosiale Joernalisme? So, help ons om met die regte benaming vorendag te kom. Sluit aan as 'n lid van Lekkerafrikaans.com en lewer jou kommentaar by gepaste artikels.

Met Lekkerafrikaans.com bied ons aan julle die platform om te skryf. En, ja, ons skram 'n bietjie weg van die harde politiek en ernstige kerksake maar dit is bloot omdat ons graag wil gesels.. Dit beteken ook nie dat ons nie met mekaar gaan verskil nie - met Sport as een van ons onderwerpe gaan daar definitief, so nou en dan, 'n paar dwarsklappe uitgedeel word! Vir gesprekke rondom harde politiek bied ons regdeur die webtuiste skakels na 'n verskeidenheid van Afrikaanse dagblaaie en ander webtuistes.

Lidmaatskap van Lekkerafrikaans.com is gratis en beteken dat jy in alle opsigte kan deelneem aan die huidige sowel as toekomstige atiwiteite gebied deur die webtuiste. Behalwe die feit dat jy kan deelneem aan die gesprekke, kommentaar kan lewer, resepte kan plaas en artikels kan skryf, kan jy ook jou eie sosiale netwerk skep en kommunikeer met Afrikaanssprekendes van oraloor. Nuwe funksionaliteite sal voortdurend bygevoeg word en as 'n geregistreerde lid sal jy outomaties toegang hê tot voorgenoemde.

Soos dit nou al duidelik behoort te blyk uit die doelwitte wat ons vir hierdie webtuiste het, poog ons om soveel moontlik Afrikaanssprekendes betrokke te kry. Ons wil dus graag hê julle moet julle vingers teen die klawers slaan en vir ons vertel wat julle op die hart het en ervaar - alles in lekker Afrikaans! Al is dit nou oor jou laaste besoek aan Nawakwaland, julle doen en late in Perth, Afrikaanse herinneringe uit London, wat ookal - skryf vir ons.
 
Kom gesels gerus saam in lekker Afrikaans!

 

Skryf saam met ons >

 

LEDE INSKAKELING

WIE IS AANLYN?

Daar is tans 18 Gaste aanlyn
Banier

LEKKER DIENSTE

Soek Afrikaans is'die eerste ware Afrikaanse soek enjin
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier

Klik. Koop. Laat Loop.
Banier
Banier