Beskrywing: Braai n hele rou hoender oor die kole. Dit is baie maklik en gesond om die hoender op hierdie wyse gaar te maak. Dit is veral vir die manne 'n maklike hoender braai metode, niks sukkel en geen gemors van souse nie.
Bestanddele:
Die bestanddele bestaan net uit twee items: - die rou hoender en - Knorr Aromat Chilli Beef
Voorbereiding:
Die lekker van hierdie hoenderbraai le in die eenvoud daarvan. Al voorbereidings wat getref moet word is die volgende: 1. Gebruik 'n vars heel hoender of ontdooi n heel gevriesde hoender. Die grootte en hoeveelheid hoender hang af van wat die geselligheid benodig. 2. Knip die hoender (of sny met n skerp mes) die borsbeen deur en vlek die hoender oop om op die rooster te pas. Maak die hoender skoon indien nodig van onnodige binne vet. 3. Sprinkel nou net Knorr se Aromat Chilly Beef oor aan beide kante en plaas in die braai bak en hou gereed vir die braaier. 4. Die braai proses neem tussen 45 minute en 1 uur per hoender afhangend van die grootte. 5. Die braaier moet dus sy vuur so opsteek dat die eerste kole betyds beskikbaar is om te begin braai tussen 45 minute en 1 uur voor die ete voorgesit moet word. 6. As die kole gereed is, verkieslik medium hitte kole, dan word die heel hoender wat bedek is met Chilli Beef, net so op die rooster oopgevlek en vasgeknyp. Braai nou die hoender deur dit gereeld om te draai sodat dit nie brand nie maar eweredig gaar word. Die geoefende braaier sal weet wanneer hy deurgaar is. Gewoonlik wanneer die vleis van die borsbeen begin terugtrek. So maklik is dit! Geen gemors en geen sukkel. 7. As die hoender nou klaar gaar is word dit afgehaal en in die braai bak opgesny soos verkies. Ons verkies die normale snitte van vlerkie, wit vleis, dye en boudjies van elke helfte apart. n Skerp mes doen die ding baie maklik.
Addisionele Notas:
Alternatiewelik kan gewone rou hoender stukkies ook so gebraai word. Sprinkel net Chilli Beef aan beide kante van die rou hoender stukkies en braai. Die braaityd sal korter wees en afhang van die dikte en grootte van die stukkies. Lekker smul!